Visie:
Die visie van Oos-Rand Akademie is om binne die konteks van ‘n veelrassige en multi-kulturele Suid-Afrikaanse samelewing, vanuit ‘n Christelike en Afrikaans-sprekende milieu, leerders, elkeen na sy of haar persoonlike belangstelling en vermoë, akademies en sosio-kultureel, dit te bied wat tot ‘n sinvolle persoonlike lewe en ‘n positiewe bydrae tot opbou van Suid-Afrika en sy mense kan lei.
- Die enigste vernaamste oogmerk van die Skool is om die gemeenskap te dien, leerlinge te onderrig en op te lei sonder enige winsbejag. Enige winste wat moontlik mag ontstaan uit die bedrywighede van die Skool, sal aangewend word ter bevordering van die doelstellings.
- Om die Christelike geloof, waardes en norme te handhaaf en ‘n Christelike geloof te beoefen.
- Om die Afrikaanse taal te handhaaf as amptelike voertaal.
- Om die karakter en etos van die Skool te behou en uit te bou.
- Om die onderrig standard en opleiding van leerlinge op hoë vlak te handhaaf.
- Om die leuse van die Skool na te streef.
Missie:
Om ‘n Afikaanse privaatskool te wees met suiwer Christelike-en kultuurbeginsels, wat die individualiteit van leerders erken en bevorder.
Oos-Rand Akademie beoog om die gestelde visie deur die volgende te verwesenlik:
- Moedertaalonderrig vir alle leerders op primêre en sekondêre vlak in die onderwysstelsel word voorgestaan en aangemoedig – Afrikaans dus as voertaal vir onderrig by Oos-Rand Akademie.
- Die aanbieding en bestuur van ‘n goedbeplande lewensoriënteringsprogram.
- Leerders volgens Bybelse beginsels op te voed en aan te moedig om vir ‘n Christelike waardesisteem en lewenswyse te kies.
- Die waardes van die grondwet van die Republiek van Suid-Afrika te propageer. Met die oog op verantwoordelike burgerskap klem te lê op die grondbeginsel en lewensreël dat die individu verantwoordelikheid vir sy eie gedrag aanvaar en dat sy vryheid en regte gepaard gaan met verantwoordelikhede en die inagneming van ander se regte.
- Die erkenning dat elkeen die reg het om persoonlike keuses te maak, as mens gerespekteer te word en dus menswaardig behandel te word.
- Vertroue en lojaliteit verdien word deur eerlik, opreg en openhartig op te tree- teenoor mekaar en teenoor almal wat ons paaie kruis.
- Leerders aan te moedig om optimaal tot selfdenkende en afgeronde individue te ontwikkel.
- Goed opgeleide en gekwalifiseerde onderwysers wat toegerus is met die nodige geestelike kwaliteit en lewensingesteldhede.
- Van opvoeders word verwag om integriteit, lojaliteit, repsek, eerlikheid, diensbaarheid, vriendelikheid en betroubaarheid uit te leef.
- Van opvoeders word verwag om ten alle tye professioneel op te tree en aan te trek, voorbereid klas toe te kom, kwaliteit lesse, take, toetse en vraestelle aan te bied en hul administratiewe verpligtinge stiptelik en met toewyding na te kom.
- Deur van leerders te verwag om verantwoordelikheid te neem vir hulle akademiese werk terwyl selfwerksaamheid en selfbestuur aangemoedig word.
- Motivering van ouers en die gemeenskap om deurlopend hulle verantwoordelikhede ten opsigte van die skool- en skoolaktiwiteite te aanvaar en positief daarby betrokke te bly.
- Gemeenskapdiens op plaaslike vlak aan te moedig en te beoefen.
- Om ‘n bewussyn te kweek dat Oos-Rand Akademie deel is van die plaaslike gemeenskap, en getrou aan sy aard as onderwysinstelling, in diens staan van die gemeenskap. Gemeenskap word verstaan as breër as net die Afrikaans-sprekende gemeenskap.